SKOKKENDE koste mag dalk aan jou belegging vreet

SKOKKENDE koste mag dalk aan jou belegging vreet

map

Goeiedag!

Theo Vorster gesels op ‘n gereelde basis in die media, veral NETWERK 24, oor beleggings en so meer. Die onderstaande artikel het baie aftrek gekry en ons deel dit graag met u.

Die vrae wat u uself moet afvra is:

  • Hoeveel betaal ek?
  • Weet ek wat die totale koste is, alle lae ingesluit?

Laat weet ons indien u onseker is oor u koste struktuur. Geniet die lees.

Die Sake en Sauvignon-slypskole by die Vryfees in Bloemfontein was ’n besondere geleentheid – Media24 het ’n wenner met hul Feeskafee-konsep, waar al die koerante, TV-kanale (kykNET en Via) en tydskrifte onder een dak is!

’n Ietwat bitter nasmaak, was die gesprekke met mense oor die koste wat hulle op beleggings en vir beleggingsadvies betaal. Ek vind dit amper misdadig as ’n oom en tannie jou vertel dat ’n adviseur hulle ’n aanvangsfooi van tussen 3% en 5% op hul beleggings kwoteer – op ’n neseier van R5 miljoen kom dit neer op ’n aanvangsfooi tussen R150000 en R250000 wat na die neseier van die adviseur gaan (en dít nogal by ’n welbekende instelling) in plaas van na die belegging!

Daar is oorgenoeg bewyse dat mense wat van finansiële adviseurs gebruik maak, aansienlik beter daaraan toe is as mense wat nié van finansiële advies gebruik maak nie.

Die vraag is: Wat is ’n regverdige prys om vir die diens te betaal?

Voordat ons by die koste van advies kom, die jongste studie (Julie 2017) oor die waarde van finansiële advies kom van die Internationale Longevity Centre in Brittanje (ILC-UK). Wat die studie soveel meer waarde gee, is dat die ILC-UK onafhanklik is en nie verbind is tot enige finansiële instelling nie, maar eerder fokus op navorsing op die implikasies dat mense vandag baie langer gaan lewe as ooit tevore.

In dié studie is daar na werklike data van meer as 90000 huishoudings in Engeland gekyk. Die slotsom was dat mense wat van finansiële adviseurs gebruik maak, beter daaraan toe is as mense wat nie adviseurs gebruik nie, ongeag hoe welvarend hulle is.

“Armer” mense, oftewel mense wat op ’n streng begroting moet oorleef, was om die waarheid te sê 21% beter daaraan toe. Die welvarendste groep mense was 16% beter daaraan toe. Dis vergeleke met mense wat nie finansiële advies gebruik het nie. Die studie het gehandel oor ’n tydperk van 10 tot 15 jaar. Soos verwag, het die voordeel van advies met tydsverloop en ouderdom toegeneem.

Die vraag is nou: Indien finansiële advies so ’n groot bydrae lewer tot jou finansiële welvaart, wat is ’n billike kostestruktuur vir goeie advies?

Om die vraag behoorlik te antwoord, is dit belangrik om die verskillende koste uit mekaar te hou aangesien appels nie altyd met appels vergelyk word nie – die punte hieronder is op die grondslag dat die adviseur uiteindelik vir die finansiële ontleding, beplanning en inwerkingstelling verantwoordelik gaan wees, tesame met die deurlopende bestuur en monitor van die portefeulje:

  1. Geld wat van die belegging afgetrek word alvorens jou geld belê word (dit word gewoonlik strukturering-, inwerkingstelling- of beplanningsgeld genoem): Die vertrekpunt hier is dat daar gewoonlik heelwat werk gedoen moet word alvorens ’n volledige plan, met ontledings, langtermyn- finansiële modelle en ’n beleggingsaanbeveling, aan die kliënt gedoen kan word. Die vertrekpunt is dat die koste aan tyd en kundigheid gekoppel behoort te word. As ’n riglyn behoort dit iewers tussen R7500 en R25000 (indien werklik gekompliseerd) te wees indien die belegger wel die belegging uiteindelik by die adviseur plaas. In die R5 miljoen-geval hierbo behoort die beplanningskoste nie meer as so R7500 te wees nie!

  2. Fooi vir die bestuur van die onderliggende beleggingsportefeulje: As vertrekpunt moet die totale deurlopende fooi nie meer as 3% van die waarde van die bates per jaar beloop nie. Afhangende van die struktuur van die belegging (aktief vs. passief of binnelands vs. buitelands) kan die 3% per jaar heelwat verlaag word. Om die totale deurlopende fooie te verstaan, moet drie elemente uitmekaar gehou word en afsonderlik verstaan word – hoewel dit uiteindelik bymekaar getel moet word om die totale deurlopende fooi te bereken:

    Adviesfooi – sowat 1% van die bates onder bestuur; dit kan verlaag word indien die bedrag relatief hoog is en/of die kliënte nie veel deurlopende insette van die adviseur verlang nie. Dit is ook altyd raadsaam om te onderhandel oor ’n maksimum fooi per maand indien dit gaan oor ’n groot bedrag.
    Platform- en administrasiefooi – vlakke van tussen 0,5% en 0,75% van die bates onder bestuur is redelik standaard in die effektetrustfonds- en beleggingsbedryf.
    Onderliggende fondsbestuursfooie – dié fooi kan wissel van 0,5% tot 2% van die bates onder bestuur afhangende van die spesifieke mandaat aan die fondsbestuurder.

Wees dan ook versigtig vir prestasiegelde, “fonds-van-fonds”gelde, transaksionele koste en wrapper-gelde wat in sekere gevalle bygetel kan word!

Daar is alternatiewe tot so ’n fooistruktuur, veral waar die belegger slegs ’n spesifieke diens of kundigheid wil bekom. Hier verwys ek spesifiek na tegniese boedelbeplanning, batetoewysing- en/of portefeuljemoduleringsdienste. In dié gevalle gaan die adviseur ’n fooi hef vir die spesifieke diens en sal dan nie verantwoordelik wees (of geld verdien) vir die langtermynprestasie van die portefeulje nie.

Theo is uitvoerende hoof van Galileo Capital en ’n direkteur van Verso Wealth: Hy is ook ‘n spreker oor politiek-ekonomiese aangeleenthede en beleggings.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *